Verdonkeringsdiens

VERDONKERINGSDIENS NAGMAAL 29 APRIL 2018
INLEIDING
• Jesus Christus het vir ongeveer ses ure aan die kruis gehang.
• Hy is omtrent 9:00 Vrydagoggend gekruisig het 15:00 uur die middag gesterf.
• Vanaf 12:00 tot 15:00 was daar duisternis oor die hele aarde.
• Jesus het sewe keer gedurende hierdie verskriklike ses ure aan die kruis gepraat.
—————————-
Die sewe kruiswoorde of kruissinne van Jesus Christus som Hy sy liefde vir ons op.
Jesus het 3 kruiswoorde vanaf 9:00 tot 12:00 uitgespreek: Hierdie eerste kruiswoorde gaan oor ons belange en die belange van die mense om die kruis.
1. LUKAS 23:34: “VADER, VERGEEF HULLE WANT HULLE WEET NIE WAT HULLE DOEN NIE!”
Jesus bid vir almal van ons wat Hom, deur ons sonde, aan die kruis laat spyker het. Hy bid vir ons wat gerieflikshalwe so maklik “vergeet” dat ons Christene is en sodoende eintlik maar saamskreeu: “Kruisig Hom!” Hy bid: “Vader, moenie daaraan dink dat hulle My doodmaak nie. Dink daaraan dat ek vir hulle sterwe.
Hoor en aanvaar nou sy uitnodiging om vergewe te word in 1 Johannes 1:8-9: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”
Daar is nou geleentheid om jou sonde in stilgebed te bely en die Here te dank dat Hy ons sondes vergewe en ons reinig van alle ongeregtigheid.
2. LUKAS 23:43: “EK VERSEKER JOU: VANDAG SAL JY SAAM MET MY IN DIE PARADYS WEES”
Jesus vergewe ‘n misdadiger langs Hom aan die kruis. Vandag gaan jy saam in die hemel wees.
Waarom het net die een hierdie trooswoorde gehoor en nie die ander een nie? Omdat hy besef het dat hy verlore is sonder Jesus en daarmee sy sonde bely het en sy lewe aan Jesus oorgegee het.
Moenie langer twyfel oor God se liefde nie. Jy het jou sondes nou opreg bely. Jy het nou sy vergifnis ontvang. Gaan leef daaruit. Hoor sy wonderlike versekering vir jou: As Ek jou nou kom haal, gaan jy ook saam met My in die paradys wees.
3. JOHANNES 19:26-27: “DAAR IS JOU SEUN … DAAR IS JOU MOEDER”
In sy intense lyding gaan dit steeds vir Jesus oor ander. Hy bly tot die dood toe gehoorsaam. Hy eer sy ma. Daarom vra Hy vir Johannes om vir haar te sorg. Vir Jesus gaan dit oor jou. Hy dra jou belange op die hart. Om Jesus lief te hê beteken om, soos Hy, jou naaste tot die dood toe lief te hê.
Dink vir ‘n oomblik in stilte na hoe lief is jy vir jou familie en die mense rondom jou?
————————-
Die eerste 3 uur aan die kruis is verby. Tussen 12:00 en 15:00 was daar duisternis en stilte. Die stilte word vier keer gebreek deur die angsgeroep van ons lydende Heiland. Nou gaan dit oor die Here Jesus se verhouding met sy Vader. Dit is miljoene mense se sonde wat Jesus hier verbrysel. God se toorn oor sonde tref Hom meedoënloos. Jesus word verpletter, en ons…. ons word gespaar. Hy is alleen …. sodat ons nooit weer alleen sal wees nie.
4. MATTEUS 27:46: TEEN DRIE-UUR HET JESUS HARD UITGEROEP: “ELI, ELI, LEMA SABAGTANI?” DIT IS: MY GOD, MY GOD, WAAROM HET U MY VERLAAT?
Dat mense Jesus verlaat en verloën was erg, maar nog erger, nou is Hy van God verlaat. God is nie daar nie. Hy stuur nie ‘n engel nie. Hy doen nie ‘n wonderwerk nie. Hy red Hom nie van die kruis af nie. Jesus was van God verlaat sodat ek en jy wat in Hom glo, nooit ooit weer van God verlaat sal word nie.
In Romeine 8:38-39 sê Paulus: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping kan ons skei van die liefde van God nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus onse Here.
Sê dit saam met Paulus….
5. JOHANNES 19:28: “EK IS DORS”
Hy het dors gehad sodat jy nooit weer geestelik hoef dors te ly nie. Aanvaar sy uitnodiging in Johannes 7:37 aan jou: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”
Die troos lê verder daarin dat ons aardse lyding van verbygaande aard is. Ons sien daarna uit om na hierdie lewe vir ewig by God te wees waar daar geen dors, hartseer, pyn of lyding sal wees nie. Paulus sê in Romeine 8:18: “die lyding wat ons nou moet verduur, weeg nie op teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”
Dink na oor jou pyn en lyding, dink daaraan dat Jesus dit gedra het en dit tydelik is…

6. JOHANNES 19:30: “TETELESTAI! DIT IS VOLBRING!”
Hiermee sê Jesus vir ons dat sy lewenstaak op aarde voltooi is. Dit is die draaipunt van die wêreldgeskiedenis. Die mag van die sonde is verbreek. Daar is ‘n nuwe begin saam met God moontlik.
Maak nie saak hoe vasgeloop en deurmekaar ons lewe is nie, daar is altyd in Jesus ‘n nuwe begin moontlik. Gee opnuut jou lewe en probleme aan Jesus. Vertrou Hom vir ‘n nuwe begin…
7. LUKAS 23:46: “VADER IN U HANDE GEE EK MY GEES OOR”.
Met sy lewe het Jesus ons gewys hoe om te lewe. Nou wys Hy ons hoe om te sterwe: “in U hande…” Een ding in hierdie lewe is seker en dit is dat ons moet sterf. Wat anderkant die dood lê bly onseker… tog weet ons nou dat dit vir ons ‘n derugang na die lewe saam met God is.
Kom ons vind ons vertroosting in die liefde van Jesus wat Hy aan die Kruis vir ons bewys het en nie in die oppervlakkigheid van hierdie wêreld nie.
NAGMAAL
Wees stil en weet dat Ek God is. (Psalm 46:11)
Dit is My liggaam, wat gebreek is vir jou…
Dit is My bloed, wat gevloei het vir jou…
Ek in jou en jy in My, sodat ons Een kan wees…

Continue Reading No Comments

Vraag 8: “Wil jy gesond word?”

VRAAG 8: “WIL JY GESOND WORD?”
100 JAAR STORIE
Ten einde die werklas van die leraar te verlig, ontstaan die gebruik om van `n teologiese student en proponent gebruik te maak as hulpwerkers.
Ds Koos van Zyl, later Lt Generaal en Hoofkapelaan van die Weermag, het baie gedoen om fondse vir die bou van die Kerkgebou in te samel. Die kerk is op die kostestelsel gebou. Dit beteken dat die bouaannemer al die materiaal voorsien het, die lone betaal het en dan ‘n persentasie van koste as vergoeding ontvang het. Die aannemer was mnr P.F van Heerden van Germiston, wat destyds kerke oor die hele land gebou het. Die kenmerk van sy geboue is die toring wat solied gebou is tot by die weerhaan. Die totale koste vir die opriging van die Kerkgebou was R74, 495.00. Die susters van die gemeente het die orrel geskenk. Die horlosie op die kerktoring en die klok is deur die kinders van die gemeente geskenk. Die Kerkgebou word voltooi en op 3 Mei 1952 ingewy.
Die kerk het tesame met die gallery 700 sitplekke. Die drie kanselstoele is geskenk deur die ACSV tak van die Hoërskool Kirkwood en die groot Kanselbybel is geskenk deur mnr en mev J.C.J Olivier van Wesbank. Die kanselkleed met die woorde “Vrede vir julle” is geskenk deur die leraarsvrou Elsa van Zyl. Die horlosie in die kerk is geskenk deur mnr W.H Bouwer van Die Eike. Dit het eers in die Voortrekker Gedenksaal gehang maar onklaar geraak en toe het die 29 katkisante van 1978 dit vervang. Hulle name is agter op die horlosie geplak. Die horlosie het ongelukkig geval en is vervang met ‘n nuwe. Die oue met die name agterop word nog bewaar. Die twee Psalm en Gesangborde is geskenk deur mnr en mev Tom Calitz ter gedagtenis van hulle seun Frikkie wat op 14 Januarie 1957 oorlede is. Die mooi tafeltjie waarop die kinders jaarliks hulle dankoffers geplaas het is geskenk deur mnr. en mev. M Rautenbach ter gedagtenis aan hulle seun Johann wat op 5 Mei 1956 in ‘n militêre vliegtuig verongeluk het. Mev Rautenbach het ook die gehekelde tafeldoek vir die twee Nagmaaltafels geskenk. Die doopfond is geskenk deur die weduwee A.C. Jordaan wat ‘n steunpilaar in die gemeente was. Die groot antieke rusbank in die Moederskamer is geskenk deur mnr. en mev. Andries du Toit en moet tussen 200 en 300 jaar oud wees. Hulle het ook die tafel in die konsistorie met die geelhoutblad geskenk.
Die Nagmaalservies is in 1919 geskenk deur die C.J.V van Bayville. Die duike in die beker is veroorsaak deur die eertydse leraar toe sy motor omgeval het op die Glenconnerpad. Die gehoorapparaat is geskenk deur Cois Dorfling.
KINDERTYD
SKRIFLESING :Johannes 5:1-9
INLEIDING
Carlos Valles ‘n sendeling in Indië vertel hoe hy eendag met sy fiets in die platteland gery het. Skielik het hy bewus geword van ‘n vreemde doodse stilte. Hy het gestop, van sy fiets afgeklim en rond gekyk om te sien wat dit kon wees. Skielik het hy gesien wat die oorsaak van die vreemde stilte was. In die lae gras het ‘n kobra halflyf regop gestaan met sy bakkop en tongtjie wat heen en weer beweeg. Carlos het gekyk in die rigting waarheen die slang kyk en gesien dat die slang kyk stip na ‘n voëltjie wat ‘n ‘n tak sit. Die voëltjie was heeltemal gehipnotiseer, hy het gevries. Carlos het besluit hy gaan iets doen om die hipnose op die voëtjie te breek en het begin arms swaai en skree tot die slang weg beweeg het en die voëltjie kon vlieg.
Die storie is ‘n kragtige gelykenis. Bae mense vind hulleself vandag vasgevang in die hipnotiese kyk van die slang. Sommige is vasgevang deur vrees of depressie, ander deur wanhoop en een of ander donker emosie. Ander is vas gevang in een of ander vorm van verslawing of in versteurde verhoudings.
As jy soos die voëltjie vasgevang is, is daar goeie nuus. God wil jou genees, hy wil hê dat jy vry moet wees. Dit is die boodskap van die storie wat ons hier in Johannes 5 kry. Jesus vra vir die man wat reeds 38 jaar lank siek was: “Wil jy gesond word?”
Dit is dieselfde vraag wat God ons vandag nog vra as ons op een of ander manier verlam word. Wil ons werklik gesond word?
1. ‘n NUWE VRYHEID
In die eerste plek wys die vraag van Jesus ons op ‘n nuwe vryheid wat Jesus ons aanbied. Dit is ‘n vryheid wat die wêreld ons nie kan bied nie. ‘n Vryheid wat ons bevry van alles wat ons gevange hou. ‘n Holistiese vryheid na liggaam en gees.
Het Jesus dit regtig alles bedoel met die vraag?
Kom ons kyk net eers vining na die agtergrond om die vraag te beantwoord. Die bad by Betesda by die Skaappoort in Jerusalem was ‘n bekende genesingsplek vir Jode en nie-Jode. Mense met allerhande kwale het na die bad gekom met die hoop op genesing. Hulle het geglo dat die eerste persoon wat in die water kom as dit borrel, genees sal word. So het mense maar gesit en wag, hierdie man 38 jaar al. Die belofte van genesing het nie waar geword nie.
‘n Soortgelyke ding gebeur vandag nog.
Dink aan al die beloftes van genesing en bevryding wat die wêreld ons vandag bied. Daar is soveel self-help boeke, televisie programme, gurus, new-age filosofieë, teorieë ens.
Tog lyk dit nie of hulle so goed werk nie. Ten spyte van al hierdie beloftes van vryheid en genesing, sit mense nog steeds in vrees, depressie, wanhoop, verslawing, betekenisloosheid.
Hier kom Jesus en Hy bied ware vryheid. Johannes 8:36 sê: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.” Daarom sy vraag: “Wil jy gesond word?”
2. DIE UITDAGING VAN VERANDERING
Tweedens konfronteer hierdie vraag ons met die uitdaging van verandering. Dis hoekom Jesus dit vir hom vra. Was hy regtig bereid om sy ou lewe en lewenswyse prys te gee? Het hy nie dalk so gewoond geraak aan die voordele wat sy siekte vir hom gebring het, dat hy nie wou verander nie?
Hy het immers vriende en familie gehad wat hom kom haal het, vir hom kos gegee het, hom bejammer het, hom versorg het. Hy het nie nodig gehad om verantwoordelikheid te neem vir sy lewe nie, ander moes dit vir hom doen. Miskien het hy begin gemaklik voel met sy situasie. Om gesond te word sou beteken dat hy verantwoordeliheid vir sy lewe moes neem.
Jesus se vraag dui aan dat Jesus wou weet hoe hy dink hieroor. Wou hy regtig gesond word?
Die man se antwoord dui daarop dat hy nie regtig wou gesond word nie. In plaas van ‘n duidelike ja!, vermy hy die vraag. Hy verkies om ‘n paar verskonings te maak oor hoekom hy in die situasie is. Hy blameer ander daarvoor dat hy siek is.
Hy sê in vers 7: “Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.”
So beskuldig hy ander dat hulle hom nie die hulp gee wat hy nodig het nie.
Daar is ‘n ooreenkoms tussen die man en ons vandag. Soos hy,vermy ons ook soms om die dinge te verander wat ons meer vry sal laat lewe. Ons geniet die aandag en simpatie as ons kla oor ons omstandighede. Iemand stel dit so: “Ons is dikwels smart – vrate!” Ons speel soms die “blame game” eerder as om verantwoordelikheid te vat om self te verander. Ons kla oor ons verhoudings eerder as om daaraan te werk. “My man is so, my vrou is so, my kinders doen dit…”
Hierdie vraag konfronteer ons met die uitdaging: “Is jy gewillig om op te hou om ander die skuld te gee en verantwoordelikheid te vat om self die mens te word wat jy kan wees?”
3. DIE RISIKO VAN GEHOORSAAMHEID
Derdens verwys hierdie vraag van Jesus na die risiko van gehoorsaamheid. Ten spyte van sy verskonende antwoord, wil Jesus hom gesond maak. Jesus sê vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop!” Jesus sê vir hom eintlik: genoeg van hierdie verslawende lewe, leef voluit!.
Hy doen dit. En – gee toe – dit moes baie geloof en moed gevat het om na 38 jaar op te staan en te loop. Daar is baie twyfel vrae wat deur sy kop kon gegaan het. Tog doen hy dit. Veronderstel dat hy nie die risiko van gehoorsaamheid geneem het nie… dan sou hy sy lewe so in afhanklikheid daar langs die bad gesluit het.
Die boodskap is duidelik. God se genesing begin die oomblik as ons ‘n tree neem op die riskante pad van gehoorsaamheid. Die wonderwerke in die bybel werk dikwels so. Wonderwerke val nie uit die bloute uit nie. Hulle is dikwels ‘n mengsel van God se genade en die gewilligheid van mense om te doen wat God vra.
SLOT
Ek wil afsluit met ‘n fabel van Friedman wat hy noem die krag van oortuigings:
Een aand het ‘n man by die huis gekom en aangekondig dat hy dood is. Onmiddelik het sommige van sy bure vir hom probeer aantoon dat hy simpel is. Hy loop, dooie mense kan nie loop nie. Hy dink, so sy brein funksioneer nog. Hy haal asem, sy hart klop, en hy het nog verhoudings met mense. Maar, heelaas, nie een van hierdie argumente het hom oortuig nie.
Dit lyk asof hy dit regkry om die las van bewyse op die ander mense te plaas. Kort-kort het iemand gedink: “Nou het ek hom oortuig”, nadat hulle bewyse gebring het wat so oortuigend is dat niemand dit sou kon weerspreek nie. Maar niemand kon hom oortuig nie.
Gaandeweg het sy vriende opgehou om hom te probeer oortuig, sy gesin het begin bang raak. Een-vir-een het hulle tot die gevolgtrekking gekom: “Hy’s mal, hy’t van sy kop af geraak, stapelgek! Miskien het hy te veel stress by die werk. Miskien het hy ‘n breingewas. Hy het rus nodig, miskien moet hulle ‘n Dokter kry of ‘n Sielkundige, miskien ‘n Psigiater, of ‘n Predikant.
Die man het hom egter nie gesteur aan hulle ontsteltenis nie, ook nie kwaad geword nie. Hy het net vir hulle gesê: “Ek weet nie wat is fout met julle nie, dit is net belaglik dat julle aan ‘n dooie man dink as siek of moeg”. Soos hulle frustrasie en vrees toegeneem het het hulle tot ‘n besluit gekom: Hulle het hulp van buite nodig. Hulle het toe ‘n Psigiater gekry om hom te kom sien.
Die Psigiater het die familie gevra of hy die man alleen kan sien. Verlig het hulle ingestem. Die twee is toe in ‘n kamer en die Psigiater het die deur toegemaak. Na ‘n tydjie kom hulle uit. Die Psigiater sê toe vir die familie: “Totaal en al psigoties, julle sal hom moet laat sertifiseer as psigopaat, hy het alle kontak met die werkikheid verloor”.
Die volgende persoon wie se hulp hulle inroep, is die Predikant. Hulle hoor van ‘n bekende rondreisende Evangelis wat met ‘n reeks preke in die dorp is en nader hom. Toe hy hoor van die geval stem hy dadelik in met die opwindende gedagte wat so ‘n getuienis aan sy dienste kan doen! Weereens is die familie buite gelaat en is die Evangelis en die man alleen in die kamer. Na ‘n rukkie kom die Evangelis uit die kamer, gluur net na die familie en storm by die huis uit. Nuuskierig kyk hulle by die kamer in en daar lê die man rustig en slaap!
Hierdie keer wend hulle hulle na die gesinsdokter. Hy ken immers die man vandat hy ‘n kind was. Hy het dadelik oorgekom, ‘n paar vrae gevra en toe rustig vir die man gevra: “Sê my, kan ‘n dooie man bloei?”
“Natuurlik nie”. antwoord die man.
“Goed, sal jy my dan toelaat om ‘n klein snytjie op jou arm te maak met my doktersmessie, maar moenie bekommerd wees nie, ek sal die bloed onmiddelik stop en die plekkie ontsmet, en dan kan ons vir eens en vir altyd sien of jy dood is”.
Die man stem in en hulle gaan toe voort met die eksperiment. Almal hou die petalje angstig dop. Toe die Dokter die snit maak, spuit die bloed onmiddelik. Die familie spring en dans rond van vreugde, hulle lag en huil deur mekaar. Almal is verlig.
Die Dokter verbind die wond en sê toe hy hoop dat die saak nou opgelos is. Almal wens hom geluk.
Hulle kom toe agter dat die man nie meer by hulle is nie maar in die deur staan. Almal kyk na hom en hy sê: “Ek besef dat ek wel verkeerd was”. Terwyl hy die vertrek verlaat sê hy, “dooie mense kan wel bloei!”
Jesus se vraag: “Wil jy gesond word?” konfronteer my met die risiko van gehoorsaamheid om werklik vry te wees.

Continue Reading No Comments

Sewende vraag

SEWENDE VRAAG: “WIE Sê JULLE IS EK?” MATTEUS 16:15 18 MAART 2018
100 JAAR STORIE
Dr Kirsten vertrek aan die einde van 1941 uit die gemeente. Hy het ‘n aanstelling as professor in Filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch aanvaar. Hy is opgevolg deur ds DJ van der Merwe wat op 18 April 1942 hier bevestig is. Hy het ongelukkig kanker gekry en kon nooit werklik sy werksaamhede in die gemeente begin nie. Minder as ‘n jaar na sy ontvangs op 30 Januarie 1943 ontvang hy demissie weens sy swak gesondheid. Die gemeente beroep toe vir ds JW Coetzee en hy word in April 1943 in die gemeente ontvang.
Tydens sy bediening word die gedagte dat die gemeente te groot is vir een leraar vir die eerste keer geopper. Hy vertrek uit die gemeente op 13 Desember 1948 en word op 12 Maart 1949 opgevolg deur proponent JA van Zyl. Ds van Zyl was ‘n sterk direktiewe leier wat baie menings op kerkraadsvergaderings uitspreek, wenke deurgee en voorstelle maak. Daar was ‘n goeie verhouding tussen hom en die gemeente.
Die gesprek oor die oprigting van ‘n nuwe Kerkgebou kom aan die gang. ‘n Boufonds word op die been gebring en fondsinsameling vir die doel word onderneem. Die finale besluit om te begin met die bouwerk word geneem op 24 November 1950. Die erf langs die Voortrekker Gedenksaal word ook aangekoop. Die kerkraad begin die moontlikheid ondersoek om die eerste Kerkgebou te verkoop.
Die Skool maak ook gebruik van die Voortrekker Gedenksaal. Die Skoolkommittee hou hulle vergaderings in die konsistorie by die saal en die skool maak gebruik van die saal vir hulle byeenkomste. Onder beskerming van die gemeente kom ook twee plaasskole vir Kleurlingkinders tot stand.
Daar is ook ‘n Sendinggemeente gestig en in 1946 word eerwaarde Vogel as leraar beroep. Sy salaris en pensioen word deur die kerkraad betaal. Hy aanvaar egter in 1947 ‘n beroep na ‘n ander gemeente.
Die sosiale euwels in die tyd was weerspieël in die kerkraad se poging om ‘n plaaslike gekleurde kroeg te sluit en beswaar is gemaak by die ATKV teen die oprigting van ‘n kroeg by die Hartenbos strandoord. Daar is ook besluit dat lootjies nie by die kerkbasaar uitgeneem mag word nie.
KINDERTYD
Weet julle wie is die president van Amerika?
Weet julle wat ’n ouetehuis is?
Nou hulle vertel dat die President van Amerika ‘n ouetehuis besoek het. Hy het met ‘n vriendelike oom gesels en vir die oom gevra: “Weet oom wie ek is?”
Die oom het gesê: “Nee jong ek weet nie, maar as jy nie weet wie jy is nie, moet jy na die ontvangs toe gaan, daar sê hulle vir ons wie ons is as ons vergeet het…”
Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?”
Roep ’n kind vorentoe en vra vir hom/haar die vraag: “Wie is jy?” As die kind dan sy/haar naam en van as antwoord gee (bv. Annie Nel), vra dan: “Nou wie is Annie Nel?”
Laat sy dan verder verduidelik. Tien teen een sal sy dan sê wie haar pa en ma is of dalk selfs waarvandaan sy kom en waar sy bly. Lei die kind om van sy/haar ouers te vertel.
Prys hom/haar dan en sê dat dit baie goed is dat h/sy gesê het van sy/haar ouers, want dan weet mens presies wie h/sy is en wat sy/haar bloedlyn is.
Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom. Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook. Dit help ons verstaan wie ons is.
Dis presies wat Jesus hier doen. Hy vra vir die dissipels of hulle weet wie Hy is. Petrus het die ‘regte’ antwoord; hy kon sê wie se Seun Jesus is.
Dit was vir die dissipels baie belangrik om te weet wie Jesus is, net soos dit vir sommige mense belangrik is om hul familiegeskiedenis te ken.
Wys vir die kinders ’n familiewapen. Gewoonlik is daar ’n paar goed in die wapen wat iets van die familie sê.
En wie se Seun is Jesus?
God s’n!
En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom. Hy is God se Seun!
Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.
SKRIFLESING
Net voor ons lees eers twee opmerkings:
• Die plek in die evangelies waar hierdie belydenis voorkom is belangrik. Dit kom so min of meer in die middel van die evangelies voor. Die eerste deel van die evangelies gaan oor Jesus se aardse bediening, Hy beweeg rond en maak mense gesond en leer die dissipels. Dan kom hierdie gedeelte met Jesus se vraag en Petrus se belydenis. Hierna word dit baie ernstiger, Jesus sê vir die dissipels dat Hy gekom het om te sterf en dan word die vervolging teen Hom al erger tot by die kruis.

• Die belydenis word uitgespreek in die streek bekend as Sesarea-Filippi. Dié streek het eers ‘n ander naam gehad, maar is toe ter ere van die Romeinse Keiser Augustus, Sesarea (klink soos “Caesar”) genoem. Iets van ‘n huldeblyk aan die keiser, ‘n herdenking van die keiser, ‘n “lank lewe die keiser!” Hier is die keiser vereer met die woorde: “Die Keiser is die Here”. Die keiser het in daardie gebied vir homself titels soos Verlosser, Seun van God en selfs God aan homself toegeken het.
Hy is inderdaad deur die mense as God aanbid.
Dit was ‘n heidense gebied.
Die griekse natuurgod Pan is ook daar vereer.

Dit is binne hierdie afgodiese mileu, waar Jesus en sy dissipels hulself bevind
wanneer Jesus aan hulle vra:

Wat sê die mense deesdae oor My…
Kom ons lees nou Matteus 16:13-20

INLEIDING
‘n Tyd gelede het ‘n span argeloë ‘n opspraakwekkende ontdekking gemaak. Hulle het afgekom op drie antieke doodskruike, waarin die beendere van drie mense nà verloop van baie eeue nog bewaar gebly het. Op die kruike staan die name van vermoedelik dié drie mense, naamlik Josef, Maria… en Jesus.

Die nuus hiervan het rimpelings nie alleen deur die argeologiese wêreld laat gaan nie, maar veral ook deur die godsdienstige en teologiese wêreld. Want, dat Josef se beendere êrens op aarde gevind mag word, is nog in orde; dat Maria se beendere êrens opduik, is ook in orde – sy was ook maar net ‘n mens, ten spyte van die verering wat sommige vir haar het; maar Jesus?

Kyk as dit werklik die beendere van Jesus in die kruik is, dan word Hy mos afgetrek na die vlak van Josef en Maria, na die vlak van alle gewone mense, word sy beendere maar net nog in ‘n lang ry van mense wat voor Hom gelewe en gesterf het, en die lang ry wat ook nà Hom sou lewe en sterwe. Dan is al die getuienisse oor Hom, en al sy aansprake oor Homself mooi stories, maar sprokies. Dan word die hartslag van die Nuwe Testament uitgeruk, die basis van ons geloof, van die kerk en die Christendom onder ons voete weggeneem. Dan bly daar in werklikheid niks daarvan oor nie… (Johan Cilliers: Sal die regte Jesus opstaan asseblief? p. 78-79)

1. DIE BELANGRIKSTE VRAAG WAT JY OOIT SAL MOET ANTWOORD.
Die vraag wat Jesus aan Petrus vra, is nie ‘n teoretiese vraag nie, dis ‘n praktiese lewensvraag. Dit word aan elke mens gevra want op Petrus se antwoord sê Jesus: “
Jy is Petrus, die rots. Jou belydenis is die rots waarop Ek my kerk sal bou

Let wel, jy is nie die rots waarop die kerk gebou gaan word nie MAAR die BELYDENIS wat jy sopas uitgespreek het, dit is die rots waarop die kerk gebou word…?

Jou belydenis was: “U is die Christus, die Redder, wat deur God na ons toe gestuur is. U is die Seun van die lewende God” (vers 16).

Dan gee Jesus ‘n kenmerk van die ware kerk:

Hy sê: Almal in die kerk het hierdie belydenis in gemeen…

Dit maak van die kerk ‘n eenheid, Dit bind die kerk in Christus saam…

Jesus kan selfs sê: “Die magte van die hel is nie sterk genoeg om dit stil te maak nie.”

2. ONTWIKKEL ‘N PERSOONLIKE VERHOUDING MET JESUS
Om in die Bybel te lees van Jesus of in die kerk en die kategese van Jesus te hoor is belangrik. Ons het die kennis nodig. Hoe meer ek oor Jesus weet en van Jesus lees, hoe beter. Maar dit is nie die enigste kennis wat daar is nie. Ons kan sê dit is ‘n historiese kennis. Ons weet waar Jesus gebore is, wie sy ouers was, hoe Hy groot geword het, hoe Hy gekruisig is en begawe is en opgestaan het. Dis alles belangrik maar dit is net historiese kennis.
Wat meer belangrik is, is ‘n persoonlike kennis wat kom uit my eie ervarings met Jesus. Albei hierdie twee soorte kennis is belangrik.
Kom ek gebruik ‘n voorbeeld.
Ek en Annamarie is 38 jaar getroud. In Kirkwood is daar baie mense wat haar ken, hulle het ‘n historiese kennis van haar. Hulle weet hoe sy lyk en dat sy ds Ampie se vrou is en dat sy ‘n onderwyser was. Historiese kennis. Maar niemand ken haar persoonlik, soos ek haar ken nie. Julle het nog nie haar intense liefde vir die Here gesien nie. Julle ken nie haar passie om vir mense om te gee en hulle te help nie, Julle ken nie haar eerlikheid en integriteit nie, haar liefde vir haar kinders en kleinkinders, ens.
Net so, het ek by die historiese kennis van Jesus ‘n persoonlike kennis nodig wat kom van ervarings, van naby Hom leef, sy teenwoordigheid ervaar…Ek kan Hom net persoonlike leer ken as ek my lewe aan Hom oorgee en Hom volg. Dan maak die Heilige Gees Hom ‘n lewende werklikheid in my lewe.
So oorgawe is nie ‘n vinnige ding nie, dis ‘n proses oor jare heen. Dit gebeur wanneer ek al meer groei in die liefde van Jesus en al meer sy wil soek vir my lewe.
3. ERVAAR JESUS AS JOU METGESEL
Die Jesus in jou hart moet gesien word in jou aksies, veral in Sesarea-Filippi. Daar waar ons elke dag lewe, waar mense met die mond bely maar nie met die hart glo nie, of waar mense openlik Jesus ontken.
Jesus is die Here. Hy is my Baas, my Eienaar. Ek behoort aan Hom. In die krag van die Heilige Gees tree Jesus uit die Bladsye van die Bybel en kom word my Immanuel, God by my, my Metgesel.
Saam met ander gelowiges, stap ons saam met Jesus deur Kirkwood se strate. Ons is nooit alleen nie!

SLOT

Ons het begin met die vraag: Wie is Jesus vir jou..?

Jy kan net vir of teen Jesus kies.
Jy kan nie die keuse systap om sodoende neutraal te wees nie.

Jesus is of vir jou die ware God en Middelaar, of hy is dit nie…
Of jy gryp aan Hom vas as jou persoonlike Verlosser of jy weet van beter en sal jou eie heil uitwerk…

Vir my is Hy my Koning en Verlosser, Seun van die Lewende God. Die Skrif sê Hy het na die hemel opgevaar waar Hy nou aan die regterhand van God sit.
Hy het nie in ‘n kruik agtergebly nie.

Wat sê jy?
Wie is Hy vir jou?

Waarvan getuig jou lewe?

Continue Reading No Comments

nha cai uy tin , nha cai uy tin , tap chi me va be , casino truc tuyen , casino uytin , casino totnhat , danh bai , poker online , casino , bao ve viet nam , bao ve viet nam , suc khoe , thoi trang nam 2014 , suc khoe 2014 , shop thoi trang , tin tuc thoi trang phim le , hi tech , tin cong nghe , cong nghe , thoi su , tin moi , thoi trang , the gioi smartphone , cong nghe , may tinh bang gia re , dien thoai , su kien , game mobile , nghe si viet , the gioi nhac , nha cai , dien dan bong da , best bookies, clevermart.vn , goldcare.vn , phonereview.vn , tinhangngay.vn , sieuthisachnoi.com , doctruyentranh.tv , sieuthismartphone.vn , kinhthongminh.org , thietbithongminh.tv , sieuthithietbiso.org ,