Vraag 10: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?”

VRAAG 10: “VERSTAAN JULLE WAT EK VIR JULLE GEDOEN HET?”
JOHANNES 13:12 8 APRIL 2018

INLEIDING
Het jy al ‘n modelvliegtuigie of modelkarretjie gebou? Of ‘n legkaart?
Dit was heerlik om die pakkie oop te maak, al die deeltjies uit te haal, die instruksies te begin lees, en dan met die bouwerk te begin. Elke keer as jy vasdraai, kon jy na die prentjie kyk en die instruksies volg.
Alles is makliker as jy ‘n model het, ‘n voorbeeld wat jy kan navolg.
Dit is wat Jesus ook hier doen, Hy gee die dissipels ‘n voorbeeld, ‘n model waarvolgens hulle kan optree.

AGTERGROND
In Jesus se tyd was die samelewing gestruktureer volgens ‘n Piramiede. Heelbo was die magtiges, die rykes en geleerdes. Die mense wat ales beheer het, wat al die regte kontakte gehad het. Hulle was die mense wat in beheer was, en wat die dinge laat gebeur het.
Aan die onderpunt was die magteloses, die slawe, die ongeleerdes, die vreemdelinge. Die was hulle werk om die mense wat bo aan die Piramide was te dien. Een van die maniere wat die aan die onderpunt die wat bo was moes dien was om hulle voete te was na ‘n reis of wanneer hulle by die huis gekom het. Dit was stofpaaie en hulle het sandale gedra, so die voete moes eers gewas word voordat hulle die vertrek binne gekom het. Dit was die laagste vorm van werk wat mens jou kon voorstel en daarom het die laagste van die slawe die werk gedoen.
Nou kan ‘n mens jou voorstel toe die dissipels saam met Jesus bymekaar kom vir die Paasoffer maaltyd. Wie gaan hierdie werk doen? Wie gaan so laag daal om dit te doen? Nie een van hulle was bereid om dit te doen nie.
Toe Jesus die skottel water vat en die handdoek en hulle voete begin was, het Hy die ondenkbare gedoen. Hy het Homself daarmee met die mense aan die onderpunt van die sosiale Piramide geidentifiseer. Letterlik het Hy, soos Filippense 2:7 sê, die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en aan die laagste mense in die samelewing gelyk geword. Jesus, die een wat in beheer is, die een wat in hulle kring nommer een is, Hy gee Homself prys en neem die gestalte aan van ‘n dienskneg en was hulle voete.
Petrus se reaksie was daarom nie so snaaks nie. In Johannes 13:6-8 is Petrus ontsteld oor wat Jesus doen, hy sê: “Here, gaan Ú mý voete was?”
Jesus se antwoord aan hom was dat al begryp hy nie noú nie, hy dit later sal verstaan. Nie dat Petrus daarmee tevrede was nie. Dit het net nie vir hom reg gevoel dat Jesus hierdie ondankbare werk om voete te was, iets wat ‘n slaaf sou kon weier, dat Hy dié werkie sou doen nie. Hy was immers God se Seun. Dit het net nie gepas by Hom dat Hy hulle almal se dienskneg word nie.
Daarom sê Petrus vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”
Jesus oortuig egter vir hom dat dit enigste manier is waarop hy deel aan Jesus sou kry, as Jesus sy dienskneg sou word en sy voete was. Getrou aan Petrus se aard wil hy sommer oorboord gaan en heeltemal gewas word, maar Jesus weier omdat die aanvaarding van die voetewas genoeg was.
Toe Jesus hulle voete klaar gewas het, het Hy sy aksie aan hulle verklaar. As Hy, wat hulle Here en Leermeester is, dan hulle voete gewas het, behoort hulle ook mekaar se voete te was. Jesus het nou vir hulle ’n voorbeeld gestel, en soos Hy vir hulle gedoen het, só moet hulle ook vir mekaar doen. “Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

1. JESUS WAS SY VERRAAIER EN SY VERLOËNAAR SE VOETE
‘n Mens sou dink dat dit al erg genoeg was, maar die vernedering wat Jesus Homself oplê gaan nog dieper.
Soos ons gesien het, twee persone word uitgelig in die verhaal van Jesus wat die dissipels se voete was. Judas en Petrus.
Judas sou Jesus verraai en Petrus sou Jesus verloën, Petrus sou Hy in die binnehof staan waar Jesus verhoor word dié nag, en drie maal sê, ek ken dié man nie. Ek ken dié man nie. Ek ken dié man nie!
Tog deins Jesus nie terug daarvan om Homself te verneder en hulle voete te was nie, Judas s’n en ook Petrus s’n. Jesus deins uiteindelik selfs nie terug van die kruisdood waaraan Judas aktief meewerk deur sy verraad en Petrus passief deur sy verloëning nie.

2. JESUS HET SY EIE MENSE TOT DIE UITERSTE LIEFGEHAD
Dit is ontstellend en ontblotend, want ons kry dit miskien nog reg om diens te lewer vanuit ons vermoëns en ons gawes. Dit kan selfs vir ons op een of manier bevredigend wees, maar dit raak regtig moeilik as ons mense wat ons verraai, mense wat ons verloën, wat ontken dat hulle ons ken, as ons dié mense se voete moet was.
En tog, dít is wat Jesus van ons vra. Ons moet die pad stap met die Judasse en met die Petrusse. Ons moet voete was in die volle wete dat die resultaat moontlik nie sal wees soos ons graag wil hê dat dit moet wees nie.
Hoe sal ons dit regkry?
Wel, ons het net een antwoord, en dit is te vinde in die rede hoekom Jesus dit doen.
Hoekom was Jesus Judas en Petrus se voete?
Want, sê Johannes in hoofstuk 13:1, Jesus het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. Die geheim lê in die liefde, die liefde wat geduldig is, en vriendelik. Die geheim lê in die liefde wat nie afgunstig is nie, nie grootpraterig nie, en nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit kan hom nooit verbly oor onreg nie, maar sal altyd hom verheug oor die waarheid. En soos Paulus in daardie ongelooflike diep hoofstuk oor die liefde in sy eerste brief aan die Korintiërs sê: “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Liefde is alleen moontlik in ‘n verhouding met Jesus, want dié liefde is ‘n gawe wat Hy gee. Laat ons nie vergeet nie, vir Petrus bring die voetewas die begin van die verandering, toe Hy Jesus toelaat om hom lief te hê. Want, die voetewas is uiteindelik ‘n simbool van die kruis, die finale en deurslaggewende liefdesdaad van Jesus. Die liefde van die kruis bring daarom uiteindelik vir Petrus die lewe, toe hy Jesus toelaat om hom lief te hê en te herstel as leier van die dissipelkring. Drie maal vra Hy vir Petrus, het jy my lief? En drie maal antwoord Petrus, u weet dat ek u liefhet.
Vir Judas bring die liefde van die voetewas en die kruis egter die dood, toe hy wegvlug van Jesus en weier om tot inkeer te kom. Jesus se liefde word in Judas se geval verwerp en die boek oor Judas word uiteindelik toe gemaak.

3. LAAT JESUS DEUR JOU ANDER SE VOETE WAS
Ons kan Jesus dus net navolg in sy voorbeeld as ons toelaat dat Hy ons liefhet, as ons Hom toelaat om ons lief te hê. Daarin lê die krag wat ons soos Hy sal maak.
Dan kan ons die voorbeeld van Jesus volg, om mense te wen, die Judasse en die Petrusse, deur selfprysgawe en deernisvolle diens. Dan kan ons waag met mense. Dit is die mense wat aan ons bekend is as verraaiers en verloënaars. “Gelukkig is julle as julle dit ook doen.”
Die punt is, dat ons Jesus moet toelaat om deur ons ander se voete op dieselfde wyse te was, dat sy liefde na ander sal vloei deur ons.
“Gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

SLOT
Stephen Covey skryf daar is drie woorde wat baie belangrik is in mense se lewens. Die eerste is afhanklikheid – dis vir babas en kinders wat nie op hul eie kan leef nie. Die tweede woord is onafhanklikheid – waar ons emosioneel en intellektueel op ons eie voete kan staan. Die werklike kuns van die lewe is egter om te groei na die derde woord – interafhanklikheid.
Interafhanklikheid beteken ek besef ek word gevorm en gemaak deur die verhoudings in my lewe. Met God, met mense en met alle lewende dinge. Ek is wie ek is, omdat ander in my lewe is en ek in hulle lewe is. Dis maar net ander woorde om die liefde van Johannes 13 te beskryf. Ek is nie net hier te wille van myself- my eie belang en voordeel nie. Ek is hier ter wille van ander en hulle is hier ter wille van my. Ek het ander mense nodig en hulle het my nodig. Ek kan natuurlik alleen ook, maar ek wil nie. Veral as ek aan Jesus behoort. Hy was ons deur sy bloed tot ware eenwees met Hom en met mekaar. Sodat almal kan weet deur die kwaliteit van ons liefde vir mekaar, dat ons Sy dissipels is.

Continue Reading No Comments

Paasfees

VRAAG 9 “WAAROM HUIL JY?” JOHANNES 20:13,15 1 APRIL 2018
100 JAAR STORIE
Mev. Mathilda Tibshraeny en haar broer mnr Adgar Hurter van Uitenhage het die luidsprekers in die kerk geskenk. Die kerkraad het ook ‘n lyn laat aanlê na Valleihof, waar die inwoners kan inluister na die erediens. Die hoeksteen van die ou kerk is ingesit aan die kerkkantoor se kant. Dit is gelê op 6 Maart 1920 en die inskripsie daarop is Soli Deo Gloria (Aan God alleen die Eer). Die hoeksteen van die kerk is aan die hoofingang se kant. Dit is deur ds. Koos van Zyl gelê op 21 Oktober 1951 met die inskripsie: “Die Meester is hier en Hy roep jou”.
Ds Koos van Zyl aanvaar ‘n beroep en hy vertrek uit die gemeente tydens Augustus 1952. Hy word opgevolg deur proponent S.J.H. van der Spuy wat op 28 Februarie 1953 as leraar hier bevestig is. Proponent J.B. Greeff, wat aanvanklik as hulpwerker in die gemeente gewerk het, word uiteindelik as tweede leraar beroep en op 28 April 1956 bevestig. Na ds van der Spuy se vertrek in November 1958 word ds S.J. Fourie beroep en in April 1959 bevestig. ‘n Jaar later in Desember 1950 vertrek ds Greeff en word opgevolg deur ds J.L. Minnaar in November 1960.
SKRIFLESING
Johannes 20:11-18
INLEIDING
Oor die afgelope paar jaar het ek iets omtrent myself agter gekom. En dit is dat trane baie makliker kom as vroeër.
Daar kan baie redes daarvoor wees.
Dit kan maar iets wees wat saam met ouer word kom, dat mens besef dat jy meer broos en feilbaar is as voorheen. Of dit kan wees as gevolg van hartseer in die verlede wat nog nie deurgewerk is nie. Soos mens ouer word kom daar ook ander aspekte van jou persoonlikheid na vore.
My trane kom partykeer onverwags. Soos wanneer ek ‘n hartseer verhaal op TV kyk. Partykeer by ‘n begrafnis. Partykeer as ek heimweë het as ek dink aan die verlede
Hoekom deel ek dit met julle?
Ek wil hê julle moet bewus word van trane in julle eie lewe.
Die wonderlike is dat ons trane nie altyd in hartseer hoef te eindig nie. Ons trane kan ons lei tot ‘n nuwe begin, tot heling en groei. Trane kan ons harte ontvanklik maak vir ‘n dieper ervarings van God. Dit is wat ons sien in hierdie vraag van Jesus aan Maria daardie eerste Paasfeesoggend toe Hy haar vra: “Mevrou (vrou), waarom huil jy?”
AGTERGROND
Dink net vir ‘n oomblik saam met my oor die agtergrond van hierdie vraag. Maria het buite die graf, waar Jesus begrawe is, gestaan en huil. Sy liggaam, wat sy wou kom salf, was weg. Dink vir ‘n oomblik aan haar angs en verslaentheid. Nie alleen is haar Heer en Meester gekruisig nie maar nou het iemand nog sy liggaam kom verwyder. En dan kom die vraag, eers van die engele in die graf en dan van Jesus wat agter haar gestaan het. Dit was ‘n vraag wat ‘n nuwe begin vir Maria ingehou het deur haar pyn heen.
1. DIS GOED OM TE HUIL
Jesus se vraag aan Maria wil ons eerstens daaraan herinner dat dit goed is om te huil. Trane herinner ons daaraan dat ons brose en feilbare mense is. Jesus het dit maar alte goed geweet. In die bergrede in Matteus 5:4 het Hy gesê dat ons dat ons geseënd is wanneer ons huil. Hy het self ook gehuil by die graf van Lasarus. Daarom het Hy nie vir Maria gevra om tog op te hou huil nie, nee Hy het haar trane aanvaar en uitgereik na haar nood.
Ons het nodig om dit te hoor. Baie van ons, veral mans voel ongemaklik met trane. Diep in onsself sien ons dit as ‘n swakheid. Ons probeer ons trane keer – al wil dit breek binne in ons. Dikwels hoor ons die sinsnede: “Ek moet sterk wees.”
Ons is goed met humor, ons maak grappies van die mees hartseer gebeure. Dikwels kry ons Whatts App grappies oomblikke na ‘n hartseer gebeure. Dis ons samelewing, wat so gewoond geword het aan geweld, se manier om die hartseer te verwerk. Ons het verleer om te huil.
Ek hoop dat Jesus se vraag jou en my sal help om te onthou om te huil. Dit kan die begin wees van ‘n nuwe heling, ‘n nuwe begin, soos vir Maria.
2. KONFRONTEER DIE STORIE AGTER DIE TRANE
In die tweede plek wil Jesus se vraag: “Waarom huil jy?” ons uitnooi om na te dink oor die storie agter die trane. Dis wat Hy wou gehad het dat Maria Magdalena moes doen. Hy wou hê sy moes nadink oor die rede vir haar pyn. Hy wou gehad het sy moet haar hartseer in woorde formuleer. Hy wou gehad het dat haar trane ‘n stem moes kry. Dit is ook presies wat sy doen, sy sê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” Duidelik het sy gemaklik genoeg gevoel in die opgestane Jesus se teenwoordigheid om haar hart teenoor Hom oop te maak, al het sy Hom nie herken nie.
Ons moet ook reageer op hierdie vraag.
Ons kan dit doen op een van twee maniere. Ons kan iemand vind teenoor wie ons veilig voel en wie ons kan vertrou met ons trane. Iemand wat opreg kan luister.
Of ons kan ons trane deel met God. Die Psalms is vol van sulke voorbeelde. Hulle wys ons hoe ons eerlik en opreg met God kan praat oor die rede van ons trane. Dink byvoorbeeld aan Psalm 39:13: “Hoor tog my gebed, Here, luister na my hulpgeroep; moet tog nie koud staan teenoor my trane nie, want ek is net op u beskerming aangewese; U alleen sorg vir my, soos vir al my voorvaders”
Wanneer ons ons hartseer deel met God of iemand anders, kom daar heling, vrede, aanvaarding. Ons voel dan ons is nie meer alleen nie. Ook wanneer ons ons hartseer na God bring in die teenwoordigheid van iemand wat omgee, kom daar soveel vrede. Gedeelde smart is halwe smart.
Soms mag ons ervaar dat God in Jesus in ons bestaan ingekom het, ons sonde en lyding op Hom geneem het, en dat Hy saam met ons huil in ons pyn….
3. BEWEEG VAN TRANE NA NUWE BEGIN
Derdens help Jesus se vraag ons om te beweeg van trane na ‘n nuwe begin.
Kyk hoe vertel Johannes hierdie storie. Hy sê aanvanklik het Maria nie vir Jesus herken nie. Sy het gedink Hy is die Tuinopsigter.
Hoekom ‘n Tuinopsigter? Dit lyk tog of daar ‘n dieper betekenis is aan die gedagte van ‘n Tuinopsigter.
Waar in die Bybel lees ons vir die eerste keer van ‘n tuin?
In Genesis waar God die eerste mense geskep het en hulle die verantwoordelikheid gegee het om vir die tuin te sorg. Maar dinge het baie skeef geloop, hulle het besluit om hulle eie weg te volg, in plaas van God s’n. Die gevolg is dat hulle hulle plek in die tuin verloor het. Die paradys het verlore geraak en ons voorouers het hulleself daar uitgewerk sodat hulle buite die tuin, wat bedoel was om hulle tuiste te wees, geleef het.
Hou dit in gedagte as ons terugkeer na die verhaal.
Albei hierdie stories het plaas gevind in ‘n tuin. Adam was veronderstel om om te sien na die tuin terwyl Maria vir Jesus verwar met die Tuinopsigter. Daar was ‘n “nuwe Adam” wat sy verskyning gemaak het. Hy het die angel uit die dood kom neem en dit oorwin, die angel wat deur die eerste Adam se oortreding gekom het. Die opgestane Jesus wou vir Maria die gawe gee om oor te begin, om meer as oorwinnaar te wees.
Dit is wat die opgestane Jesus nog altyd vir ons wil hê.
Deur ons trane heen, wil Hy ons help om nuut te begin. Om lewe nuut te ervaar deur die krag van die opstanding. Hy doen dit soos Hy dit gedoen het met Maria, Hy kom soek ons op wanneer ons huil, Hy noem ons by die naam en Hy nooi ons tot ‘n dieper verhouding met Hom…
Dikwels, soos Maria, herken ons Hom nie aanvanklik nie.
Miskien kom Hy deur iemand wat omgee. Soms kom Hy in ‘n natuur toneel. Soms deur die brood en die wyn by die nagmaal. Hoe Hy ookal na ons toe kom, wil Hy deur die krag van die opstanding ons nooi om ‘n stap verder te neem, deur ons pyn.
SLOT
Waarom huil jy?
Luister na hierdie vraag as jy saam met Maria in die tuin staan en huil. Hoor agter die vraag die Een wat altyd na jou soek totdat Hy jou vind. Die Een wat jou op jou naam noem en wie se liefde jou nooit sal laat los nie.
As jy so nadink oor hierdie vraag, dink ook aan hulle wat onlangs gehuil het. Iemand naby jou, iemand in ons gemeente, of iemand waarvan jy gelees het op facebook of gehoor het oor die nuus. Bring daardie persoon in die teenwoordigheid van die opgestane Jesus wat uitreik na elkeen wat huil.

Continue Reading No Comments

Goeie Vrydag

MATTEUS 27:45-55 GOEIE VRYDAG 27 APRIL 2018

TEKENS BY DIE KRUIS (LIEFE CARE)

INLEIDING

Jesus se lyding en Kruisiging is verbind met ‘n klompie natuurverskynsels.

• Duisternis
• Tempel se voorhangsel wat in twee skeur
• Aardbewing en
• Dooies wat opstaan

Die natuur neem deel aan die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom. Hierdie deelname van die natuur het die Evangelie skrywers en die kunstenaars nog altyd aangespreek. Wanneer hulle die kruistoneel oorvertel of skilder, dan word hierdie tonele altyd ingewerk.

Die natuur kan ‘n mens met verwondering en soms ook met vrees vul.

Matteus 27:54

“Toe die offesier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: ‘Hierdie man was werklik die Seun van God’”

Die natuurverskynsels was misterieus en het hulle bang gemaak. Hulle het ‘n aanvoeling gehad dat hier iets buitengewoons en “onnatuurlik” gebeur.

Die Evangelies skrywers wil met hierdie natuurverskynsels sê dat die hele skepping en die hele geskiedenis by die gebeure op Golgota betrokke was. Die Kruis het ‘n universele karakter.

Kom ons kyk na die verskynsels:

1. DUISTERNIS OOR DIE AARDE

Matteus 27:45

“Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele aarde gekom en tot drie-uur geduur.”

Ek dink daar is ‘n simboliese waarde aan hierdie verskynsel. Die simboliek daarvan is dat die son sy lig verduister het oor die lyding aan die Kruis. Die hele wêreld se sonde het op daardie oomblik neergekom op Jesus aan die Kruis en dit was asof God nie wou hê dat iemand dit moes sien nie.

Die son wat die grootste bron van energie is en wat vir duisende jare deur baie mense aanbid is, is vir ‘n kort tyd sy goddelike krag ontneem. Nie die son is die grootste krag nie maar die liefde van die Seun van God wat in eenheid met die menslike geslag al hulle sonde op Hom geneem het.

2. DIE VOORHANGSEL HET IN TWEE GESKEUR

Matteus 27:51

“Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder imiddeldeur geskeur.”

Die voorhangsel het die tempel ‘n heilige plek gemaak. Agter die voorhangsel was die verbondsark. Daar kon net die hoëpriester een keer per jaar ingaan om namens die volk in die teenwoordigheid van God te verskyn.

Met die skeur van die voorhangsel het die tempel sy heiligheid verloor. Nou was die tempel oop vir almal, elke oomblik van die dag en die nag.

Die voorhangsel kan nie meer reg gemaak word nie. Daar is en was en sal baie mense wees wat dit probeer doen. Aan die Kruis het God godsdiens en tempels veroordeel. Almal, oral, te alle tye het toegang tot God. Daar is nie meer ‘n heilige plek nie, ‘n spesifieke plek waar God teenwoordig is nie. Daar is nie net een kerk of kerkgroepering wat aanspraak kan maak op die eksklusiewe waarheid nie. God is oral, op elke plek, te alle tye teenwoordig, beskikbaar vir alle mense.

Na die Kruis kan kerke en tempels nie meer heilige plekke wees nie, hulle kan slegs plekke wees waar ‘n groep mense saam fokus op die teenwoordigheid van God.

3. AARDBEWING

Matteus 27:51

“Die aarde het geskud, die rotse het uitmekaar gebars.”

Ook die aarde het gedeel in die gebeure aan die Kruis. Daarmee is ook die aarde geoordeel. Die aarde is nie meer die vaste, seker plek waar ons ons sekerheid kan vind nie. Die skud van die aarde wys na ‘n ander grond waarop ons sekerheid rus, naamlik die selfopofferende liefde wat deur geen geweld en haat oorwin kan word nie.

Die aarde is nie ons vaste grond nie maar die liefde van God wat hier in Jesus openbaar word en deur die Heilige Gees weerklank vind in ons lewens. Ons sekuriteit lê nie in enige iets tydeliks nie.

Liefde is sterker as die dood, daarom sê Paulus in 1 Korintiërs 13 dat liefde die grootste is.

4. OPSTANDING

Matteus 27:52

“Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.”

Die opstanding van gelowiges is nie nog ‘n verskynsel by die Kruis nie, maar word in Jesus se dood geimpliseer. Hier is ‘n storie van die opstanding voor die opstanding.

Soos Jesus se geboorte reeds die Kruis impliseer, so impliseer die Kruis reeds die Opstanding.

Ons onderskei wel Kersfees, Lyding, Kruis, Opstanding, Hemelvaart, maar eintlik is dit alles een gebeure waar God Homself in Jesus aan ons openbaar.

Die aarde is nie meer onderwerp aan die wet van geboorte en sterwe nie. Dit is onderwerp aan ‘n hoër wet, die wet van lewe uit die dood deur die dood van Hom wat ewig lewe.

Daarmee is ook vir ons die patroon geskep van lewe uit die dood, sodat ons nooit in ‘n doodloopstraat hoef te beland nie.

SLOT

Sedert die Kruis is niks meer dieselfde nie.

Die skepping is nie meer wat dit was nie, kerk en godsdiens is nie meer wat dit was nie, die geskiedenis is hervorm en is nie meer wat dit was nie. Die siening van lewe en dood is nie meer dieselfde nie.

En u en ek behoort ook nie meer dieselfde te wees nie.

2 Korintiërs 5:17 sê

“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

En Galasiërs 6:15

“Of jy besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ‘n nuwe mens is”

Continue Reading No Comments

nha cai uy tin , nha cai uy tin , tap chi me va be , casino truc tuyen , casino uytin , casino totnhat , danh bai , poker online , casino , bao ve viet nam , bao ve viet nam , suc khoe , thoi trang nam 2014 , suc khoe 2014 , shop thoi trang , tin tuc thoi trang phim le , hi tech , tin cong nghe , cong nghe , thoi su , tin moi , thoi trang , the gioi smartphone , cong nghe , may tinh bang gia re , dien thoai , su kien , game mobile , nghe si viet , the gioi nhac , nha cai , dien dan bong da , best bookies, clevermart.vn , goldcare.vn , phonereview.vn , tinhangngay.vn , sieuthisachnoi.com , doctruyentranh.tv , sieuthismartphone.vn , kinhthongminh.org , thietbithongminh.tv , sieuthithietbiso.org ,