Sewende vraag

SEWENDE VRAAG: “WIE Sê JULLE IS EK?” MATTEUS 16:15 18 MAART 2018
100 JAAR STORIE
Dr Kirsten vertrek aan die einde van 1941 uit die gemeente. Hy het ‘n aanstelling as professor in Filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch aanvaar. Hy is opgevolg deur ds DJ van der Merwe wat op 18 April 1942 hier bevestig is. Hy het ongelukkig kanker gekry en kon nooit werklik sy werksaamhede in die gemeente begin nie. Minder as ‘n jaar na sy ontvangs op 30 Januarie 1943 ontvang hy demissie weens sy swak gesondheid. Die gemeente beroep toe vir ds JW Coetzee en hy word in April 1943 in die gemeente ontvang.
Tydens sy bediening word die gedagte dat die gemeente te groot is vir een leraar vir die eerste keer geopper. Hy vertrek uit die gemeente op 13 Desember 1948 en word op 12 Maart 1949 opgevolg deur proponent JA van Zyl. Ds van Zyl was ‘n sterk direktiewe leier wat baie menings op kerkraadsvergaderings uitspreek, wenke deurgee en voorstelle maak. Daar was ‘n goeie verhouding tussen hom en die gemeente.
Die gesprek oor die oprigting van ‘n nuwe Kerkgebou kom aan die gang. ‘n Boufonds word op die been gebring en fondsinsameling vir die doel word onderneem. Die finale besluit om te begin met die bouwerk word geneem op 24 November 1950. Die erf langs die Voortrekker Gedenksaal word ook aangekoop. Die kerkraad begin die moontlikheid ondersoek om die eerste Kerkgebou te verkoop.
Die Skool maak ook gebruik van die Voortrekker Gedenksaal. Die Skoolkommittee hou hulle vergaderings in die konsistorie by die saal en die skool maak gebruik van die saal vir hulle byeenkomste. Onder beskerming van die gemeente kom ook twee plaasskole vir Kleurlingkinders tot stand.
Daar is ook ‘n Sendinggemeente gestig en in 1946 word eerwaarde Vogel as leraar beroep. Sy salaris en pensioen word deur die kerkraad betaal. Hy aanvaar egter in 1947 ‘n beroep na ‘n ander gemeente.
Die sosiale euwels in die tyd was weerspieël in die kerkraad se poging om ‘n plaaslike gekleurde kroeg te sluit en beswaar is gemaak by die ATKV teen die oprigting van ‘n kroeg by die Hartenbos strandoord. Daar is ook besluit dat lootjies nie by die kerkbasaar uitgeneem mag word nie.
KINDERTYD
Weet julle wie is die president van Amerika?
Weet julle wat ’n ouetehuis is?
Nou hulle vertel dat die President van Amerika ‘n ouetehuis besoek het. Hy het met ‘n vriendelike oom gesels en vir die oom gevra: “Weet oom wie ek is?”
Die oom het gesê: “Nee jong ek weet nie, maar as jy nie weet wie jy is nie, moet jy na die ontvangs toe gaan, daar sê hulle vir ons wie ons is as ons vergeet het…”
Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?”
Roep ’n kind vorentoe en vra vir hom/haar die vraag: “Wie is jy?” As die kind dan sy/haar naam en van as antwoord gee (bv. Annie Nel), vra dan: “Nou wie is Annie Nel?”
Laat sy dan verder verduidelik. Tien teen een sal sy dan sê wie haar pa en ma is of dalk selfs waarvandaan sy kom en waar sy bly. Lei die kind om van sy/haar ouers te vertel.
Prys hom/haar dan en sê dat dit baie goed is dat h/sy gesê het van sy/haar ouers, want dan weet mens presies wie h/sy is en wat sy/haar bloedlyn is.
Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom. Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook. Dit help ons verstaan wie ons is.
Dis presies wat Jesus hier doen. Hy vra vir die dissipels of hulle weet wie Hy is. Petrus het die ‘regte’ antwoord; hy kon sê wie se Seun Jesus is.
Dit was vir die dissipels baie belangrik om te weet wie Jesus is, net soos dit vir sommige mense belangrik is om hul familiegeskiedenis te ken.
Wys vir die kinders ’n familiewapen. Gewoonlik is daar ’n paar goed in die wapen wat iets van die familie sê.
En wie se Seun is Jesus?
God s’n!
En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom. Hy is God se Seun!
Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.
SKRIFLESING
Net voor ons lees eers twee opmerkings:
• Die plek in die evangelies waar hierdie belydenis voorkom is belangrik. Dit kom so min of meer in die middel van die evangelies voor. Die eerste deel van die evangelies gaan oor Jesus se aardse bediening, Hy beweeg rond en maak mense gesond en leer die dissipels. Dan kom hierdie gedeelte met Jesus se vraag en Petrus se belydenis. Hierna word dit baie ernstiger, Jesus sê vir die dissipels dat Hy gekom het om te sterf en dan word die vervolging teen Hom al erger tot by die kruis.

• Die belydenis word uitgespreek in die streek bekend as Sesarea-Filippi. Dié streek het eers ‘n ander naam gehad, maar is toe ter ere van die Romeinse Keiser Augustus, Sesarea (klink soos “Caesar”) genoem. Iets van ‘n huldeblyk aan die keiser, ‘n herdenking van die keiser, ‘n “lank lewe die keiser!” Hier is die keiser vereer met die woorde: “Die Keiser is die Here”. Die keiser het in daardie gebied vir homself titels soos Verlosser, Seun van God en selfs God aan homself toegeken het.
Hy is inderdaad deur die mense as God aanbid.
Dit was ‘n heidense gebied.
Die griekse natuurgod Pan is ook daar vereer.

Dit is binne hierdie afgodiese mileu, waar Jesus en sy dissipels hulself bevind
wanneer Jesus aan hulle vra:

Wat sê die mense deesdae oor My…
Kom ons lees nou Matteus 16:13-20

INLEIDING
‘n Tyd gelede het ‘n span argeloë ‘n opspraakwekkende ontdekking gemaak. Hulle het afgekom op drie antieke doodskruike, waarin die beendere van drie mense nà verloop van baie eeue nog bewaar gebly het. Op die kruike staan die name van vermoedelik dié drie mense, naamlik Josef, Maria… en Jesus.

Die nuus hiervan het rimpelings nie alleen deur die argeologiese wêreld laat gaan nie, maar veral ook deur die godsdienstige en teologiese wêreld. Want, dat Josef se beendere êrens op aarde gevind mag word, is nog in orde; dat Maria se beendere êrens opduik, is ook in orde – sy was ook maar net ‘n mens, ten spyte van die verering wat sommige vir haar het; maar Jesus?

Kyk as dit werklik die beendere van Jesus in die kruik is, dan word Hy mos afgetrek na die vlak van Josef en Maria, na die vlak van alle gewone mense, word sy beendere maar net nog in ‘n lang ry van mense wat voor Hom gelewe en gesterf het, en die lang ry wat ook nà Hom sou lewe en sterwe. Dan is al die getuienisse oor Hom, en al sy aansprake oor Homself mooi stories, maar sprokies. Dan word die hartslag van die Nuwe Testament uitgeruk, die basis van ons geloof, van die kerk en die Christendom onder ons voete weggeneem. Dan bly daar in werklikheid niks daarvan oor nie… (Johan Cilliers: Sal die regte Jesus opstaan asseblief? p. 78-79)

1. DIE BELANGRIKSTE VRAAG WAT JY OOIT SAL MOET ANTWOORD.
Die vraag wat Jesus aan Petrus vra, is nie ‘n teoretiese vraag nie, dis ‘n praktiese lewensvraag. Dit word aan elke mens gevra want op Petrus se antwoord sê Jesus: “
Jy is Petrus, die rots. Jou belydenis is die rots waarop Ek my kerk sal bou

Let wel, jy is nie die rots waarop die kerk gebou gaan word nie MAAR die BELYDENIS wat jy sopas uitgespreek het, dit is die rots waarop die kerk gebou word…?

Jou belydenis was: “U is die Christus, die Redder, wat deur God na ons toe gestuur is. U is die Seun van die lewende God” (vers 16).

Dan gee Jesus ‘n kenmerk van die ware kerk:

Hy sê: Almal in die kerk het hierdie belydenis in gemeen…

Dit maak van die kerk ‘n eenheid, Dit bind die kerk in Christus saam…

Jesus kan selfs sê: “Die magte van die hel is nie sterk genoeg om dit stil te maak nie.”

2. ONTWIKKEL ‘N PERSOONLIKE VERHOUDING MET JESUS
Om in die Bybel te lees van Jesus of in die kerk en die kategese van Jesus te hoor is belangrik. Ons het die kennis nodig. Hoe meer ek oor Jesus weet en van Jesus lees, hoe beter. Maar dit is nie die enigste kennis wat daar is nie. Ons kan sê dit is ‘n historiese kennis. Ons weet waar Jesus gebore is, wie sy ouers was, hoe Hy groot geword het, hoe Hy gekruisig is en begawe is en opgestaan het. Dis alles belangrik maar dit is net historiese kennis.
Wat meer belangrik is, is ‘n persoonlike kennis wat kom uit my eie ervarings met Jesus. Albei hierdie twee soorte kennis is belangrik.
Kom ek gebruik ‘n voorbeeld.
Ek en Annamarie is 38 jaar getroud. In Kirkwood is daar baie mense wat haar ken, hulle het ‘n historiese kennis van haar. Hulle weet hoe sy lyk en dat sy ds Ampie se vrou is en dat sy ‘n onderwyser was. Historiese kennis. Maar niemand ken haar persoonlik, soos ek haar ken nie. Julle het nog nie haar intense liefde vir die Here gesien nie. Julle ken nie haar passie om vir mense om te gee en hulle te help nie, Julle ken nie haar eerlikheid en integriteit nie, haar liefde vir haar kinders en kleinkinders, ens.
Net so, het ek by die historiese kennis van Jesus ‘n persoonlike kennis nodig wat kom van ervarings, van naby Hom leef, sy teenwoordigheid ervaar…Ek kan Hom net persoonlike leer ken as ek my lewe aan Hom oorgee en Hom volg. Dan maak die Heilige Gees Hom ‘n lewende werklikheid in my lewe.
So oorgawe is nie ‘n vinnige ding nie, dis ‘n proses oor jare heen. Dit gebeur wanneer ek al meer groei in die liefde van Jesus en al meer sy wil soek vir my lewe.
3. ERVAAR JESUS AS JOU METGESEL
Die Jesus in jou hart moet gesien word in jou aksies, veral in Sesarea-Filippi. Daar waar ons elke dag lewe, waar mense met die mond bely maar nie met die hart glo nie, of waar mense openlik Jesus ontken.
Jesus is die Here. Hy is my Baas, my Eienaar. Ek behoort aan Hom. In die krag van die Heilige Gees tree Jesus uit die Bladsye van die Bybel en kom word my Immanuel, God by my, my Metgesel.
Saam met ander gelowiges, stap ons saam met Jesus deur Kirkwood se strate. Ons is nooit alleen nie!

SLOT

Ons het begin met die vraag: Wie is Jesus vir jou..?

Jy kan net vir of teen Jesus kies.
Jy kan nie die keuse systap om sodoende neutraal te wees nie.

Jesus is of vir jou die ware God en Middelaar, of hy is dit nie…
Of jy gryp aan Hom vas as jou persoonlike Verlosser of jy weet van beter en sal jou eie heil uitwerk…

Vir my is Hy my Koning en Verlosser, Seun van die Lewende God. Die Skrif sê Hy het na die hemel opgevaar waar Hy nou aan die regterhand van God sit.
Hy het nie in ‘n kruik agtergebly nie.

Wat sê jy?
Wie is Hy vir jou?

Waarvan getuig jou lewe?

Continue Reading No Comments

Sesde vraag: “Wat soek julle?”

SESDE VRAAG: “Wat soek jy?” JOHANNES 1:35-42 11 MAART 2018

KINDERDIENS

100 JAAR STORIE

In 1933 word H.J. Goosen aangewys as skriba/kassier van die gemeente. Hierdie pos het hy ononderbroke vir 50 jaar beklee.

Die mondigwording van die gemeente word gevier in 1939. By die geleentheid word daar afsonderlik aan die kinders, mans en vrouens geleentheid gebied om ‘n geldelike bydrae te maak tot die gemeentefondse. Die gebrek aan fondse bly maar ‘n groot probleem in die gemeente, met die gevolg dat bouwerk en die verbetering van die geboue nie aangepak kon word nie. Daar is ook nie geld om nagmaalkelkies aan te koop nie. Die nagmaalskelkies word “klein bekertjies” genoem waarskynlik om die indruk te skep dat dit net ‘n voortsetting is van die gebruik van die beker.

Die sake wat in hierdie tyd aangespreek word is die swak bywoning van die aanddiens, staatslotery wat afgekeur word en sport op Sondae. Die kerkraad skryf selfs ‘n brief aan die minister en die prokureur-generaal oor hulle kommer oor sport op Sondae en nader die polisie met ‘n versoek om dit stop te sit. Hulle versoek ook die voorsitter van die Sondagrivierse Sitrus Kooperasie dat die bome nie op Sondae gestoom moet word nie.

Daar blyk ‘n toename in armoede te wees en die diakens vorm ‘n Armesorgkommissie met die oog daarop om hulp te verleen aan arm gesinne.

Daar kom ook nog baie tugsake voor rondom die oortreding van die sewende gebod. Tog kom daar ‘n verandering in die benadering in die dienstyd van dr. Kirsten. Paartjies wat oortree het, hoef nou nie meer voor die kerkraad te verskyn nie maar kan die dominee en die betrokke ouderling in die pastorie ontmoet, waarop daar dan aan die kerkraad verslag gedoen word.

SKRIFLESING

Johannes 1:35-42

“Wat soek julle?” (vers 38)

INLEIDING

Ons manne is nie so lief vir inkopies nie. Nou die dag loop ek ‘n bekende paartjie raak in Bay West met vol trollies. Ek sê dat hulle seker bly is om klaar te wees. Die man antwoord toe baie moedeloos: “Nee ons het nog steeds nie gekry waarna ons soek nie!”

Dit laat mens dink aan ons rustelose harte. Ons is altyd op soek na iets. Iets wat ons gelukkig sal maak, vir ons betekenis het, ons lewe voller sal maak.

Jesus se vraag ontbloot hierdie soeke. As Andreas en die ander dissipel agter Jesus aan loop, draai Jesus om en vra vir hulle: “Wat soek julle?”

Dit is interessant dat net een van die twee se name genoem word, Net Andreas, die broer van Petrus, maar nie die tweede dissipel nie. Mens kan baie spekuleer oor wie dit was maar die beste is om dit te so te sien dat dit nie spesifiek ‘n bekende was nie. Sy naam word nie genoem nie sodat elkeen van ons in die situasie kan pas. Ons kan ons in hierdie onbekende dissipel se plek inleef, eintlik vra Jesus vir elkeen van ons vanoggend hierdie vraag: “Wat soek jy?”

So kom ons kyk wat beteken hierdie vraag vir ons vandag.

1. LUISTER NA JOU HART

Die eerste ding wat Jesus se vraag doen is om ons te laat luister na ons hart. Hart is nie ons fisiese orgaan nie, maar word in die Bybelse metafoor gebruik om ons diepste wese aan te dui, die kern van ons persoonlikheid, die mens wat ons regtig is. As ons sê dat iemand sy of haar hart met ons gedeel het, bedoel ons dat hulle hulle diepste menswees aan ons bekend gemaak het. Wanneer ons dus na ons hart luister, gee ons aandag aan ons diepste begeertes en behoeftes.

Tog doen ons dit nie sommer nie, ons bly dikwels net voort hardloop op auto-pilot. Ons maak baie verskonings hoekom ons nie na ons hart luister nie. Ons sê ons het nie tyd nie, ons is te besig. Of ons sê dit maak te seer of dis te sentimenteel. Tog roep Jesus deur hierdie vraag ons om bietjie stil te staan en te luister na ons hart.

Matteus 6:21 sê: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Wat is jou hartsbegeerte?

Dit bepaal jou lewe.

2. ONTDEK WAT JY DIE MEESTE BEGEER

Die tweede ding wat hierdie vraag doen is om ons uit te daag om te ontdek wat ons diepste begeerte is. Een van die redes waarom dit moeilik is om te weet wat dit is, is omdat ons so baie begeertes het.

Jeremia 17:9 sê: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?”

Ons het baie begeertes. Party is oppervlakkig, soos ek wil graag ‘n nuwe kar hê of ek wil graag ‘n nuwe Gholfstel hê. Ander kom van plekke in ons lewe waar daar hartseer is, soos ‘n kinderlose egpaar wat begeer om ‘n kind te hê. Of iemand wat siek is wat begeer om gesond te word.

Hoe ontdek ons wat ons diepste begeerte is?

Daar is ‘n klein stilword oefening wat mens kan doen. Ek het dit die eerste keer gelees in die boek van Steven Covey: “Seven Habits of highly effective people” Hy noem dit “begin with an end in mind”. Vir die oefening moet jy jou verbeelding gebruik. Verbeel jou jy woon ‘n begrafnis by en daar is mense wat praat oor die persoon wat dood is, ‘n familielid, ‘n vriend en ‘n medelidmaat. Die persoon wie begrawe word is jyself, gaan nader en luister wat sê die mense oor jou lewe.

Dit wat jy graag wil hê die mense oor jou moet sê, dit is jou diepste begeerte.

3. VRA VIR DIE HERE

Praat met die Here. Filippense 4:6 sê: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Partykeer dink ons God is ‘n pretbederwer. Patykeer dink ons dat Hy nie wil hê ons moet gelukkig wees nie.

Kom ons gebruik ‘n beeld. Sê nou ‘n paartjie trou en hulle skryf hulle eie beloftes. Die man sê: “Ek is lief vir jou maar van nou af mag jy geen begeertes hê van jou eie nie. Jy moet net doen wat ek wil hê. Jy mag net die dinge doen wat my gelukkig maak.”

Hoe dink julle sal die bruid voel?

Partykeer dink ons so oor God. Nee, as Jesus vir die dissipels vra: “Wat soek julle?”, dan wys Hy dat Hy omgee oor ons. God luister na ons, hy wil hê dat ons met Hom moet praat.

Beteken dit dat die Here vir ons alles sal gee wat ons wil hê?

Nee.

Nie alle begeertes is die begeertes van ons hart nie. Party is slegte begeertes. Slegte begeertes maak ons wêreld kleiner, isoleer ons van ander mense, vervreem ons van God, verslaaf ons lewe.

Maar begeertes van die hart, verruim ons lewe, verbind ons aan mense, trek ons nader aan God.

Daarom is een van die belangrikste gebede wat ons kan bid in Psalm 139:23: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart”.

SLOT

Spreuke 4:23 sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

Ons hartsbegeertes bepaal die mens wie ek word. Dit beinvloed my keuses en gee energie aan my drome en ideale.

Daarom moet ons baie mooi luister na hierdie vraag van Jesus: “Wat soek julle?”

Continue Reading No Comments

Inligtingsstuk van Yolanda Potgieter

NG Gemeente vraelys – inligting – 18/02/2018
Inleiding
More gemeente, nadat Dubois einde verlede jaar na Windhoek beroep is, het ons as GR besluit om net eers ‘n treetjie terug te staan en die vakansie rustig te gaan bid en dink oor die beroep van ‘n 2de leraar en ook aan die algemene “gesondheid” van ons gemeente.

Vraelys/Meningspeiling
Verlede Donderdag het ons dus ‘n GR vergadering gehad en het ons besluit om die gemeente te betrek en om ‘n vraelys op te stel, sodat ons ‘n meningspeiling kan doen tov die beroep en ook die algemene “gesondheid” van die gemeente.

Beroep van 2de leraar
Ons eerste vrae op die vraelys gaan oor die beroep van ‘n leraar. Ons is tans volgens ons boeke 852 lede, en dit sluit ons dooplidmate in. Hierdie lidmate is in 25 wyke gesetel. Ons het op die oomblik net 19 dienswerkers.
Op die GR is daar tans 2 vakante poste. Ons het 20 Bedieningsgroepe, maar daar is by al die groepe ‘n dringende behoefte aan meer lede. Ons het in 2016 15 Bybelstudiegroepe gehad waarvan 5 nou nog weekliks bymekaar kom.
So, u kan sien dat dit ‘n relatief groot gemeente is, maar dit is feitlik onmoontlik vir 1 leraar om by alles uit te kom.
Ek gaan netnou nog uitbrei oor die werksaamhede van die gemeente.
Maar ons het 3 opsies:
Ons kan ‘n 2de leraar beroep, wat dan vir Ampie sal bystaan en die gemeente sal bedien.
Of ons kan ‘n jeugwerker beroep – ‘n jeugwerker kan alles doen wat ‘n predikant kan doen, hy/sy kan net nie die sakramente bedien nie. Maw hy/sy kan nie nagmaal bedien, of ‘n doop of troue doen nie. Hy kan preek, begrafnisse doen en al die ander pligte wat van ‘n leraar verwag word. Hy sal dan ook uitsluitlik betrokke wees by die jeug. Hy/sy sal dan ook ‘n kleiner salaris ontvang as ‘n gewone leraar.
Of ons kan nie iemand beroep nie
Ek kan u ook die versekering gee, dat indien ons ‘n leraar/jeugwerker beroep, ons deeglike navorsing sal doen en ons uiterste bes probeer om die regte persoon vir ons gemeente aan te stel. Daarvoor gaan ons baie gebede nodig hê en gaan ons die pad saam met die Here stap en op Hom vertrou om die regte persoon op ons pad te bring.
Baie lidmate vra ook vir my oor ‘n man of ‘n vrou. Dit is nie eers vir ons ‘n kriteria nie, ons wil die beste persoon aanstel, ongeag of dit ‘n man of vrou is.
Ek weet baie van u dink ook, miskien kan ons dit nie bekostig nie. Maar ja, ons kan dit bekostig, maar dit is nie eintlik vir my ‘n rede om daarteen te besluit nie. As ons as gemeente ‘n leraar wil beroep, KAN ons gemeente sorg dat ons finansieel sterk genoeg is om dit te dra. Omdat ons dienswerkers en predikante nie meer by almal kon uitkom of huisbesoek doen nie, het baie lidmate vergeet om hul bydraes aan te pas. En u weet dat ons absoluut afhanklik is van u bydraes. Ons hou wel projekte en funksies om geld in te samel, maar ons maak die meeste staat op ons lidmate se maandelikse bydraes. So, ek wil regtig ‘n beroep doen op u om weer te gaan kyk na u bydrae. Wanneer laas het u dit aangepas, en vir die wat dit jaarliks aanpas, sê ek baie baie dankie. Ek wil dan ook sommer sê dat ons nou besig is met die afsluiting van ons finansiële jaar en dat Jurie in Maart die fin verslag sal voorlê. Ons sal 2x ‘n jaar die fin verslag aan die gemeente voorhou, maar indien u enige navrae of inligting wil hê, is u baie welkom om ‘n draaitjie by Magda te maak en sy kan dit vir julle gee.
U moet asb net onthou, dat hierdie vraelys net ‘n meningspeiling is, en dat die laaste besluit of goedkeuring by die Ring lê. Ons sal hierdie vraelyste deurgaan en dan sal ons by ons volgende GR vergadering ‘n besluit maak. Die beroep van ‘n leraar/jeugwerker is ‘n baie lang proses en kan dit maande duur voordat ons ‘n nuwe leraar/jeugwerker het.

Algemene welstand van gemeente
Dan sal u sien het ons ook vrae daar gestel oor ons algemene “gesondheid”. En ek wil vra dat u asb daardie vrae so eerlik moontlik sal beantwoord, maar dat dit positiewe opbouende kritiek sal wees. As jy iets kritiseer, kom asb met ‘n voorstel na vore. Ek weet ons stel onsself ontsettend bloot, maar ons is nou op ‘n punt in die gemeente waar ons mekaar se hande moet vat en saam moet besin oor ons gemeente.
Ek dink ons almal besef dat ons gemeente se kerkbywoning baie swak is en daarom het ons as GR besluit om bietjie introspeksie te doen en te identifiseer waar moontlik probleemareas is.
Jeug
Ons moet oud en jonk akkommodeer en om dit te doen moet ons aanpas en vernuwe. Om suksesvol te kan wees moet ‘n mens vernuwe en verander. Nie een van ons boere boer nog soos hulle 10 jaar terug, ag 5 jaar terug geboer het nie. Daar is gedurig vernuwing. In enige werk, in die skole, is daar voortdurende vernuwing en as ‘n mens nie aanpas en vernuwe nie, dan beteken dit dat jy stagneer. En dit mag nie in ons gemeente gebeur nie.
Baie mense sê ons jeug, dan praat ek van die jong werkendes, kom nie meer kerk toe nie. Hulle gaan kerk toe, maar baie van hulle ry PE toe, na ander kerke toe. Hoekom? Want ons akkommodeer hulle nie in ons kerk nie. Hier het verlede week ‘n kerk van PE ‘n selgroep hier op Kwd kom stig vir die jongmense.
Ons jeug is die toekoms van ons kerk en ons moet na hulle ook luister. Daarom wil ek baie graag hê hulle moet ook hierdie vraelyste invul, sodat ons kan hoor wat hulle sê en hoe hulle voel. Ek wil dan ook die 2 vakante poste in die GR vul met jonger mense. So, as jy iemand kan identifiseer wat jy dink ‘n bydrae sal kan maak op die GR en die jongmense kan verteenwoordig, moet jy asb vir my of Magda of enige een van die GR lede kontak.
Aanbidding
Elke persoon leef sy geloof op ‘n ander manier uit, en aanbid God op ‘n ander manier. Daarom moet ons mekaar ruimte gee en verdra om elke een se geloof en aanbidding op sy manier waarop hy/sy gemaklik is, uit te leef. As ons by ‘n rugbywedstryd is, ondersteun elkeen op sy eie manier. Gaan kyk maar net na ons skoolwedstryde. Party mense spring op en af, of hardloop langs die kant af. Ander sit op die pawiljoen en skree. Ander sit net doodstil en kyk. Maar almal kyk na dieselfde wedstryd en verdra mekaar en gee mekaar ruimte om te doen wat vir hom gemaklik is. So, behoort dit ook in ons kerk te wees.
Ek wil hê dit moet vir oud en jonk lekker wees om kerk toe te kom. As ons hier by die trappe afstap, moet ons praat oor wat ons in die kerk beleef het, gehoor het en dit moet so goed wees dat ons dit daar buite gaan oorvertel. Dit is hoe ons weer ons banke vol gaan kry.
Bywoning
As ons net ons laaste 4 maande se kerkbywoning gaan vergelyk met 2016 se getalle, is ons gemiddeld 35 mense minder per diens. En dit is baie. Dit is omtrent 10 gesinne.
Daarom het ons besluit dat die predikante, ouderlinge, dienswerkers meer betrokke moet raak by wyke. Daar moet weer wyksbidure, besoeke gedoen word. As ‘n herder sy skape los laat rondloop, gaan sy skape wegloop en die wolwe gaan hulle vang. Hulle moet versorg word en bymekaar gehou word. So moet ons ook omsien na die lief en leed en geloofslewe van ons gemeente. En hier het ons gemeente net so ‘n groot verantwoordelikheid teenoor mekaar en moet ons na mekaar omsien.

Betrokkenheid
Ons wil weer ‘n grootse poging aanwend om ons gemeente betrokke te kry by die kerkaktiwiteite en bedieningsgroepe. Ons kan nie net kyk-lidmate wees nie. Daarmee bedoel ek ons kom sit net en kyk. Ons gaan net na kerkfunksies toe en kyk. Ons moet betrokke word – deel raak daarvan. Meeste van ons bedieningsgroepe het nie genoeg lede om effektief te funksioneer nie. Ons het almal sekere gawes van die Here ontvang, en is ek doodseker, dat as jy gaan kyk na die bedieningsgroepe daar defnitief een is waar jy met jou spesifieke gawe kan gaan inskakel. Moet ook nie dink, ag ek is te jonk of ek is te oud om in te skakel nie. Jongmense, as julle dink, ag nee, daar is net ‘n klomp ou tannies – gaan maak ‘n verskil. Kry nog vriende/vriendinne en sluit aan en maak ‘n verskil. Raak betrokke.
Ons as lidmate, moet eienaarskap neem van die kerk en sy aktiwiteite. Ons moet ‘n gemeente wees wat tyd maak vir mekaar. Dit is die een ding wat ons besig is om te verloor en dit is tyd. Ons het nie meer tyd vir ons vriende nie, ons het nie meer tyd vir ons kinders nie, ons het nie meer tyd vir die skool nie, ons het nie meer tyd vir die kerk nie, ons het nie meer tyd vir mekaar nie. Ons moet weer leer om as ‘n gemeenskap van die Here, saam te kan kuier. Mekaar by die Kosblik te sien, by die basaar, by die veiling, by die rolbaldag, ens.
Eredienste
Help ons dink hoe ons, ons eredienste kan vernuwe, sodat alle lidmate regtig wil kom en opgewonde is oor die erediens.
Dit is vir ons van kardinale belang om julle as gemeente se insette te kry, sodat ons ‘n ingeligte besluit kan maak oor die beroep, asook hoe u voel oor ons algemene “gesondheid”.
Die vraelys sal oor die volgende 2 weke beskikbaar wees en ons wil ook vra dat u lidmate wat dalk nie vandag hier is nie, sal inlig en vra dat hulle die vraelys ook invul. Ons wil ook vra dat u , u eie mening lig, en nie ander persone sal probeer ompraat om jou siening in te neem nie. Ons weet sommige lidmate gaan daarvoor wees, en sommige gaan daarteen wees. Ons elkeen is uniek. Maar ons is elkeen geregtig op ons eie siening, en ons het elkeen se insette nodig.
U kan die vraelys volgende Sondag weer terugbring en in die voorportaal sal ‘n boks wees waarin u dit kan gooi. Of u kan dit by Magda versorg. Die sperdatum vir die vraelys is Sondag, 4 Maart.
Ons, as GR wil regtig ‘n verskil maak om ons kerk ‘n vernuwende gemeente te maak wat vorentoe beweeg. Kom ons neem mekaar se hande en versterk mekaar en ondersteun mekaar om hierdie doelwit te bereik. Ons kan al hierdie wonderlike nuwe idees hê, maar as u nie inkoop daarin en ons help en ondersteun en betrokke raak nie. Kan ons dit maar nou al los. Baie dankie vir u tyd, en byvoorbaat dankie vir die invul van die vraelys.
Dankie

Continue Reading No Comments

nha cai uy tin , nha cai uy tin , tap chi me va be , casino truc tuyen , casino uytin , casino totnhat , danh bai , poker online , casino , bao ve viet nam , bao ve viet nam , suc khoe , thoi trang nam 2014 , suc khoe 2014 , shop thoi trang , tin tuc thoi trang phim le , hi tech , tin cong nghe , cong nghe , thoi su , tin moi , thoi trang , the gioi smartphone , cong nghe , may tinh bang gia re , dien thoai , su kien , game mobile , nghe si viet , the gioi nhac , nha cai , dien dan bong da , best bookies, clevermart.vn , goldcare.vn , phonereview.vn , tinhangngay.vn , sieuthisachnoi.com , doctruyentranh.tv , sieuthismartphone.vn , kinhthongminh.org , thietbithongminh.tv , sieuthithietbiso.org ,